Moderatorspaar - Pastoor Marius & Joanie Erasmus

Marius & Joanie Erasmus is die moderatorspaar van die Lede In Christus Kerk en voorsitterspaar van die Kerk se direksie. Marius het vir die eerste keer kennis gemaak met die lewe op 21 April 1962 in Pretoria en Joanie op 23 Maart 1958 in Parys, Vrystaat, se pastorie. Hy kom tot bekering op 30 Oktober 1977, op 15-jarige ouderdom, terwyl Joanie as pastoriedogter van wyle past Willie en Maria Fourie, reeds vroeg in haar lewe die Here leer ken het. Hulle gelukkigste dag was 11 September 1982 toe Joanie Fourie mevrou Erasmus geword het. Twee pragtige dogters, Monique en Janeske, is uit die huwelik gebore, wat intussen onderskeidelik met Leon Engelberecht en Pieter King, albei jongmanne uit pastorieë van Lede in Christus Kerk, getroud is. 

Na ‘n kort loopbaan waarin past Erasmus ‘n B.Compt graad deur Unisa verwerf en Joanie ‘n Nasionale Diploma in Handel, betree hulle op 01 Januarie 1986 die voltydse bediening. Hierdie ywerige pastoorspaar bedien oor ‘n tydperk van bykans 25 jaar, onderskeidelik Carletonville-, Pretoria-Rietfontein- en Parowgemeente. In 1997 word hulle vir die eerste keer verkies tot die direksie van die kerk en beklee die portefeuljes Streeksdirekteurspaar van Pretoria, Jeugdirekteurspaar en word in 1998 verkies to Hooftesourier en Vise-moderatorspaar. 

In April 2010 breek ‘n nuwe era in die Lede In Christus Kerk se geskiedenis aan toe pastoor Erasmus as moderator van die Kerk verkies word. Hy sien dit as ‘n groot verantwoordelikheid  en voorreg om die posisie te beklee en Joanie staan haar plek vol as ‘n volwaardige moderatorsvrou en as moeder van die Kerk, dra sy die vroue se belange op die hart, met haar geliefkoosde leuse van “Vrou, jy is ‘n diamant in God se hand”. Hierdie twee mense word gedryf deur ‘n visie wat behels: “Die effektiewe toerusting van elke pastoorspaar van ons Kerk, sodat hulle suksesvol kan arbei vir die Koning en derhalwe koninkryk- en kerkgroei teweeg kan bring”. Hulle passie is dat die kerk as gesonde lid van die liggaam van Christus op aarde sal funksioneer, met ‘n omvattende strategiese plan gefundeer op Bybelse beginsels en waardes. 

Hulle werk graag saam met ander kerke, sendings en genootskappe wat ‘n koninkryksvisie het en deel graag in die ekumeniese  liggaam van Christus. Hulle deernis vir hul medemens maak dat hulle hul lewenstaak met groot empatie vir ander uitvoer. Hulle lewensleuse is geskoei op Matt 7:12: “Net soos wat julle wil hê die mense aan aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen”.  Hulle glo aan ‘n gebalanseerde, gesonde lewenstyl, wat die liggaamlike en geestelike aanbetref, met Jesus as Koning van hul harte en ‘n gesonde, gelukkige gesinslewe as basis vir hulle bediening.

Ontwerp deur www.illustriousdesigns.co.za