SAKEFORUM VIR LEDE IN CHRISTUS KERK (NASFO)

Die huidige bestuur van ons Kerk het, as een van ons grootste doelwitte en deel van ons toekomsvisie die opleiding van pastore, asook bestuursrade geprioritiseer. Wanneer ons van opleiding praat, gaan dit nie oor akademiese kwalifikasies en titels nie, maar veel eerder praktiese hulpmiddels en toerusting om vandag se kerk te bedien en geestelik te voed. Dit is egter net so belangrik. Hierdie opleiding behels egter ’n baie groot finansiële uitleg, wat doodeenvoudig nie deur ’n oorverpligte Hoofkantoor, of die plaaslike gemeentes gefinansier kan word nie. Die doel is om opleiding vir alle pastoorspare gratis aan te bied, sodat elkeen ten beste vir sy en haar taak toegerus kan word, sonder addisionele uitleg vir die pastoorspaar self. Die volgende aspekte van opleiding het dan ook indringend aandag geniet:

  1. Die Kerk se Seminarie se eie curriculum is opgegradeer sodat die Sertifikaatkursus dien as oorbruggingskursus vir universiteitstoelating.
  2. Die Seminarie is aanvaar as satellietkampus van die Noord-Wes Universiteit vir die kursus BTh Praktiese Teologie.
  3. ’n Lisensiaat is verkry vir die aanbieding van die volledige kursus van die International School of Ministry, vir beide Suid-Afrika en Australië.
  4. Drie weke intensiewe Gebedshuisopleiding, vir alle voornemende pastoorspare, is vanaf 2010 ingestel.
  5. Verskeie praktiese, uiters effektiewe seminare en kort kursusse is gefasiliteer en vir die pastoorspare aangebied, sedert 2010.
  6. Bestuursrade is onderwerp aan vele kursusse in streeksverband.

Enkele voorbeelde van ander terreine waar Hoofkantoor, onder die huidige bestuur, ‘n baie groter verantwoordelikheid as in die verlede neem, is onder andere die volgende:

  1. Die daarstelling van ’n maandelikse welwillendheidsbedrag, huidiglik R 2 100.00 per maand, vir elke pastoor wat uit die voltydse bediening uit ons Kerk afgetree het, hetsy dit as gevolg van emeritaat of gesondheidsredes was, wat nie eie eiendom besit of selfversorgend is nie.
  2. Afgetrede pastoorspare wat nie oor akkommodasie na hul aftrede beskik nie, word sover as moontlik teen uiters billike en gesubsidieerde tariewe gehuisves by die Willie de Waal Woonstelkompleks in Pretoria, indien hulle gewillig is om daar te bly.
  3. ’n Maandelikse welwillendheidsbedrag wat vir die vorige, afgetrede Moderator betaal word.
  4. Die gee van ’n verjaarsdaggeskenk vir elke lewende, afgetrede pastoor en sy gade.
  5. Die subsidiëring van gemeentes waar pastore, wat totaal onder die broodlyn leef, ook nie die voorreg van ’n pastorie het nie en dus behuising moet huur.
  6. Die planting van nuwe gemeentes, waarvan die laastes Bloemhof en Thaba Patsoa was, in 2017. Daar is reeds 24 nuwe gemeentes geplant sedert 2010.
  7. Die Nasionale Konferensie lokaal te Helderberg is in totaal opgegradeer, ook wat die akkommodasie aanbetref. Hierdie hele projek was op sigself gedryf via NASFO.
  8. Die ondersteuning van projekte onder alle bevolkingsgroepe in die Kerk, om die daarstelling van aanbiddingsplekke te realiseer. 

Al die bogenoemde doelwitte sou onmoontlik wees, sonder die reuse insette van NASFO, aangesien dit ’n substansiële, finansiële uitleg geverg het. Ons is bevoorreg om in ons Kerk vandag uiters suksesvolle besigheidsmanne as lidmate te hê. Van hierdie mense is, as gevolg van hulle daaglikse blootstelling op verskillende terreine van die besigheidswêreld, beter ingelig en bekwaam om finansies te genereer, as wat menige pastoor ooit kan wees. In die woorde van sommige van hierdie persone, is hulle dalk nie musikante of predikers of het dalk selfs nie die tyd om op plaaslike vlak by bestuursrade betrokke te raak nie, maar wil hulle graag op die terrein waarop hulle sterk ontwikkel is, naamlik die identifisering van besigheidsgeleenthede en die gepaardgaande generering van fondse, hulle talente ten bate van ons Kerk aanwend. 

Dit het ons gebring by die sameroeping van die huidige Sakeforum, in Mei 2010. Enorme doelwitte is reeds deur hierdie klein groepie formidabele mense bereik, huidiglik 22 getroude pare en een alleenlopende broer, bygestaan deur nege pastoorspare. Tesame met hulle investering, het die Here ook uiters bekwame pastoorspare en dosente, vir die Kerk voorsien om die bogenoemde doelwitte te laat realiseer.  

Soos reeds genoem, het hierdie poging ’n direkte effek op die groei van ons Kerk en is daar op alle terreine reeds positiewe groei aangeteken, hetsy dit in getal, finansies of aanbieding by die plaaslike gemeente is.


AFLAAIBARE DOKUMENTE: 

Nasfo Verslag 2018.pdf
Geloofsofferbelofte.pdf

NASFO Ontbyt 10 Februarie 2018


REKENINGBESONDERHEDE VAN NASFO 

Rekeningnaam : Lede in Christus Kerk Nasfo 

Bank : ABSA Bank [Tjekrekening] 

Takkode : 632005 

Rekeningnommer : 6-3040-1038

Ontwerp deur www.illustriousdesigns.co.za