Bestuur & Skoolhoof van Kleutermaatjies - Pastoor Japie & Ansie Deysel

Japie & Ansie Deysel is die bestuurder en skoolhoof van Kleutermaatjies Kleuterskool. Japie is gebore in Brakpan op 18 April 1962 en Ansie sien die lewenslig vir die eerste keer 11 Junie 1964 in die Zeerust/ Groot Marico distrik. Hulle is getroud op 06 Mei 1983 in Potchefstroom en Derrick (1984) & Dewaldt (1987) word uit die huwelik gebore. Beide die seuns is getroud met pragtige dames en Japie-hulle spog met vyf energieke kleinseuns. In 1996 het hulle tot die voltydse bediening toegetree en was in Oudtshoorn geplaas deur die destydse Uitvoerende Raad om voltyds daar in die diens van die Here te staan. Die egpaar word in 1999 na Polokwane verplaas waar hulle sederdien vir die Here arbei. Hul Gemeente staan bekend as Lede in Christus Kerk, THE WORKSHOP Gemeente, omdat dit ‘n plek is waar die Here “stukkende mense heelmaak”. Toe Japie veertig jaar oud word begin hy studeer omdat hy glo dat God “iets meer in sy lewe wil bereik” en ontdek sy passie vir berading. In 2012 registreer en open hy dan ook 'n privaat beradingspraktyk. Ansie ontdek haar passie om met kleingoed te werk en kwalifiseer haarself as onderwyseres.

In 2010 val ‘n groot eer en voorreg hulle te beurt, in hul eie woorde,  toe hulle verkies word deur die pastoorskorps tot die Direksie. Japie word dan ook die direkteur van Opleiding van die Lede In Christus Kerk. Die destydse Opleidingsdepartement (GAMALIEL)verander na die LEDE IN CHRISTUS KERK TEOLOGIESE SEMINARIE (LICKTS) waar die eerste studente in Julie 2011 eksamen aflê. Die vorige pastorale kursus, wat roep vir groot waardering teenoor die vorige Opleidingsdepartement, word opgegradeer tot ‘n diploma kursus waarvoor die Seminarie in 2015 Noord-Wes Universiteit (NWU) akkreditasie verkry. In 2015 onderteken die Seminarie ook 'n ooreenkoms met die NWU waar ons kerk se studente deur die NWU hulle verder kan bekwaam met nasionaal goedgekeurde (SAKA) kwalifikasies.

Japie en Ansie is positiewe mense en sien eerder die helfte water in die glas as die helfte van die glas wat leeg is. Hulle is opgewonde oor die lewe en is van mening dat dit nie werklik gaan oor waar ‘n mens vandaan kom of selfs waar ons onsself huidiglik bevind nie, maar oor waar ons oppad heen is. Hulle glo: “ONS SIEN ONSSELF SOOS DIE HERE ONS SIEN NA AANLEIDING VAN SY WOORD: ‘Die HERE jou God is by jou, ‘n held wat verlossing skenk. Hy verheug Hom oor jou met blydskap; Hy swyg in sy liefde; Hy juig oor jou met gejubel’ (Sef. 3:19). ONS WEET GOD HET ‘N DEFINITIEWE PLAN VIR ONS LEWENS. ALLES GAAN EGTER NOG STEEDS NET OOR CHRISTUS.”

Ontwerp deur www.illustriousdesigns.co.za