VISIE

Verheerlik God deur Heilige Gees gedrewe koninkryksbou in Jesus Christus.

MISSIE

Die transformasie van elke lidmaat, gemeenskap en al die nasies tot ware dissipels van Jesus Christus, deur liefde, opleiding, deelname, lojaliteit en gemeenskapsbetrokkenheid.


ONS WAARDES

1. Die  heerskappy van Jesus Christus – absolute gehoorsaamheid aan sy Woord is essensieel. (Kol 1:16-18)

2. Die  verkondiging van die evangelie aan alle nasies. (Matt 28:19)

3.Die transformasie van elke lidmaat tot ‘n volwaardige en volwasse dissipel van Jesus Christus. (Matt 28:19, Ef 4:1)

4.Die opleiding van elke lidmaat om ook ander te leer. (2 Tim 2:2)

5.Die beskerming van die huisgesin en familiewaardes. (Ef 5:25)

 

WIE IS ONS EN WAT GLO ONS

Die Kerk ten doel het om die beginsels van die Bybel, as die Woord van die drie-enige God, met die fokus op die leer van Jesus Christus, as Hoof van die Kerk, soos in die ganse Heilige Skrif neergelê, op alle terreine en onder alle mense, ooreenkomstig Sy wil, te verkondig, tot opbouing en uitbreiding van die liggaam van Christus op aarde en om ‘n doelbewuste strewe na die eenheidsband tussen die gelowiges uit alle Christelike denominasies, te versterk en aan te wakker, asook om elke lidmaat, gemeenskap en nasie te transformeer tot ‘n ware dissipel van Jesus Christus en ook;

om die beginsels van die leer van Jesus Christus, as Hoof van die kerk, soos in die ganse Heilige Skrif neergelê, op alle terreine en onder alle mense, ooreenkomstig Sy wil te verkondig tot opbouing en uitbreiding van die liggaam van Christus op aarde en om ‘n doelbewuste strewe om die eenheidsband tussen die gelowiges uit alle Christelike denominasies te versterk en aan te wakker en om ‘n beter verstandhouding en samewerking onder alle mense te bewerkstellig.

Ons is Pinkstermense wat glo in wedergeboorte, deur waaragtige bekering, gepaardgaande met sondebelydenis en restitusie en die doop, na bekering, deur onderdompeling. Ons beskou laasgenoemde as ‘n sakrament. Ons glo verder in die sakramente deur Jesus ingestel, naamlik die heilige nagmaal, voetewassing van die heiliges en die inseëning van kinders. Ons glo in praktiese heiligmaking, gepaardgaande met die najaag van vrede met alle mense, sover dit moontlik is. Ons glo aan die gawes en werkinge van die Heilige Gees, in die volle krag van God’s Gees. Ons glo onomwonde aan die maagdelike geboorte, kruisiging, sterwe en opstandig van Jesus Christus uit die dode, op die derde dag. Ons glo ook dat Hy in die hemel opgeneem is en sit aan die regterhand van God die Vader, as Hoëpriester en Opsiener van ons geloof. Voorts glo ons in die fisiese wederkoms van Christus, op die wolke van die hemel en die gepaardgaande wegraping van sy kerk en kinders, beide lewend en afgestorwe, waarna daar ‘n ewigheid in die hemel, wat Christus vir ons berei het, op ons wag. Ons glo in ‘n fisiese hemel, engele en goddelike wesens en weet ook dat daar ‘n duiwel, met gevalle engele en demone bestaan, wat saam met die verlorenes, wat Christus nie aangeneem het nie, uiteindelik en na die oordeel van God, in die ewige poel van vuur gewerp sal word. 


HISTORIESE OORSIG

DIE GEBOORTE VAN ‘N NUWE KERK

Lede in Christus Kerk het ‘n unieke ontstaan. Die verhaal begin by die stigter, pastoor  Cornelius Johannes Prinsloo en sy gade, Constance Madeline Prinsloo. Hy was gebore op 1 Januarie 1900, ‘n datum wat nie net ‘n nuwe millennium sou inlei nie, maar ook die geboorte van ‘n man wat  ‘n nuwe beweging sou bring in God se werk op aarde. Hy was as jongman in diens van die Suid Afrikaanse Spoorweë en ‘n masjinis van beroep. In 1923 kom hy tot bekering onder die bediening van pastoor  G. J. Henning by die Apostoliese Geloofsending van Suid Afrika.  In 1928 voel hy dat God hom lei en begin ‘n Pinksterbeweging in Pietersburg. Hy kom ook intussen in aanraking met  suster M. M. Fraser, die stigter van die Spade Reën Sending, in Benoni. As gevolg van pastoor Prinsloo se liefde vir die werking van die Heilige Gees en die  gepaardgaande manifestasies, het hy dadelik aanklank gevind by Spade Reën Sending. Hy begin dan ook ‘n Spade Reën Sendinggemeente in Pretoria en die eerste aanbiddingsplek, was ‘n koeistal in Schubartstraat, wat omskep was in ‘n kerk. Later word ‘n gebou in Potgieterstraat aangekoop, wat ‘n “Geloofshuis” geword het. Pastoor Prinsloo het egter ook die beginsel verstaan dat God ‘n mens dikwels deur seisoene neem, wat as opleiding dien en dat Sy plan vir ons gewoonlik heelwat groter is, as wat ons besef. Die geheim is egter om te luister na Sy stem en te reageer soos Hy lei. God het hom ook buitegewoon gebruik met die bediening van die profetiese gawe. In die Desember van 1939 deel hy die Spade Reën Sending  mee dat die Here met hom gepraat het en dat hy ‘n ander Pinksterbeweging moet begin. Hierdie besluit was gerugsteun deur baie vasting en gebed. Hy het geen werwing gedoen onder kollegas of vriende nie en het dit baie duidelik gestel dat iemand wat die pad saam met hom wou loop, baie duidelike leiding van God self moes kry. ‘n Redelike groep mense het hulle by hom geskaar en op 21 Januarie 1940 lei die Heilige Gees deur ‘n profetiese rede, dat elke persoon, wie deel was van die groep, hom/haar as ‘n “lid in die Liggaam van Christus” moes beskou. Gedurende hierdie tyd het die Heilige Gees ook deur ‘n profetiese rede, bepaalde riglyne uitgespel wat die konstitusie van die nuwe Pinksterbeweging sou word. Die eerste groep mense in Pietersburg het ook lojaal aan pastoor Prinsloo gebly. Gemeentes was gestig in Pietersburg, Port Elizabeth, Oos-Londen, Brits en in 1942 word die perseel op die hoek van Booysenstraat en Casperlaan, in Les Marais, in Pretoria aangekoop. Helderberggemeente is hier geplant en die eerste gebou van die nuwe beweging, is hier opgerig in 1944. Dit was in dié tyd dat pastoor Prinsloo ‘n openbaring, gerugsteun deur die aanvanklike profetiese rede,  van die Here ontvang het, om die beweging “Lede in Christus” te noem.  Die “Gebedshuis” in Benitalaan, Les Marais, Pretoria, is ook in hierdie tyd aangekoop en in ‘n tyd van oorlog en armoede, het die nuut gestigte kerk se mense geleer om op God te vertrou. Die pastore van daardie tyd was “werkers” genoem en finansiële vergoeding was nie ter sprake nie. Op 1 November 1947 word die beweging onder die Maatskappy Wet geregistreer as “MICA” ofte wel “Members in Christ  Assemblies of South Africa”. Daar word verskeie pogings aangewend om die amptelike naam te verander van “MICA Gemeentes van Suid-Afrika”, na “Lede in Christus Gemeentes”, wat na vele pogings later suksesvol was. Daar word veel later, met goeie beweegrede, besluit om die amptelike naam van die kerk te verander na “Lede in Christus Kerk”, hoofsaaklik omdat die woord “Kerk” beter beskrywend was vir ‘n versameling gemeentes, as die benaming “Gemeente”, wat foutiewelik gesien kon word as verwysend net na ‘n enkele gemeente. In Suid Afrika het pastoor Prinsloo ook evangeliseer onder die ander bevolkingsgroepe. Gemeentes word landswyd onder alle etniese gemeenskappe geplant. In 1967 het Helderberggemeente in Pretoria, reeds meer as 400 lidmate gehad. Op 19 Maart 1978 is pastoor Prinsloo oorlede na ‘n kort siekbed, maar hy laat ‘n ryke erfenis aan die kerk na.


PLANTING VAN GEMEENTES IN DIE BUITELAND

Pastoor Prinsloo het ook ‘n visie gehad om gemeentes te plant in die buiteland. In 1952 vertrek hy dan ook oorsee en gemeentes kom tot stand in die VSA, Kanada, België, Engeland, België en Nederland. Hy het ook later gaan evangeliseer in  Indië, Japan, Australië en Nieu-Seeland. Sedert 1944 het hy ook in die destydse Rhodesië, vandag Zimbabwe, vir die Here gewerk. Op 19 Maart 1978 is pastoor Prinsloo oorlede na ‘n kort siekbed, maar hy laat ‘n ryke Heilige Gees erfenis vir Lede in Christus Kerk na.

DIE VESTIGING VAN GOEIE ORGANISASIE EN ADMINISTRASIE

Pastoor Prinsloo word opgevolg deur pastoor Gerrit Johannes Du Toit,  wat reeds sedert 1957 as vise-moderator opgetree het. Pastoor du Toit het op 16 Maart 1936 , op sewentienjarige ouderdom, kragdadig tot bekering. Op 30 April 1943 trou hy met Ada Jeluna Pretorius en op 01 Januarie 1947 tree hulle saam toe tot die bediening in Lede in Christus Kerk. Op 16 Maart 1978 word pastoor du Toit formeel as Lede in Christus Kerk se volgende moderator verkies, ‘n pos wat hulle met groot waardigheid beklee, tot met hulle uittrede uit die voltydse bediening, in 1996. Hierdie nuwe bouer aan God se koninkryk sou dalk in sommige se oë anders bou, maar die fondasie en die bestaande grondplan sou nooit verander nie. Pastoor  Du Toit kry die kerk administratief en organisatories gesond. Hy implementeer ‘n mediese skema, pensioenskema en salarisse vir die werkers of pastore. Hy slaag dan ook in sy visie om die kerk te lei tot die vereffening van alle eksterne skulde, wat die kerk skuldloos gelaat het. Verskeie nuwe gemeentes kom onder sy leierskap tot stand en landswyd word kerke en pastorieë opgerig vir Lede in Christus Kerk. Ondanks ‘n ernstige beroerte aanval wat pastoor du Toit gehad het, lank voordat hy moderator sou word, het hy en sy gade steeds op ‘n hoë ouderdom, tot agtien ure per dag gewerk om gemeentes en pastoorspare te besoek, van die Suide van die land tot die verre Noorde. Hulle doen die werk van die Here met onverbiddelike getrouheid en ywer. Dit dien vermeld te word dat sy eggenote, Ada du Toit, in eie reg baie groot respek afgedwing het deur die waardige wyse waarop sy haar plek aan pastoor du Toit se sy volgestaan het. In sy tyd word die naam van die kerk dan ook “Lede in Christus Kerk”.


DIE KERK LEER  GENADE

Op 11 Desember 1995 word pastoor Walter Ronald Frisby verkies tot die nuwe moderator van die Lede in Christus Kerk. Hy is op 10 Junie 1945 gebore in Krugersdorp en hy tree op 07 September 1963 in die huwelik met Charmaine Patricia Bailes. Nadat hulle in 1967 deur profesie geroep word vir pastorale opleiding by die Gebedshuise in Pretoria en Durban, begin hulle met hul loopbaan in die voltydse bediening te Messinagemeente. Kort na sy verkiesing as moderator, ontval pastoor Frisby se geliefde Charmaine hom in 1996 en los haar heengaan ‘n onuitspreeklike leemte in Lede in Christus Kerk, inaggenome haar uiters saggeaarde, liefdevolle en onberispelike voorbeeld. Pastoor Frisby leef met oorgawe sy visie vir die buiteland uit en doen baie oorsese besoeke. Hy slaag ook weer daarin om hegte bande met die gemeentes oorsee te bewerkstellig. Pastoor  Frisby word ook kragtig deur die Here gebruik met die bediening van die profetiese gawe. Onder sy leierskap verkry die gemeentes van Lede in Christus Kerk outonomie, wat plaaslike bestuur betref, na die eenwording van die kerk in Augustus 2003. Die uitgediende Uitvoerende Rade van die voorheen beskrewe Blanke-, Indiër-, Kleurling- en Swart- afdelings, word vervang met ‘n direksie wat die Lede in Christus Kerk as geheel verteenwoordig en bestuur. Pastoor Frisby se leierskap is gekenmerk deur sy sagmoedige, vriendelike geaardheid, die vermoë om mense aan te trek en menswaardig te laat voel.

DIE HUIDIGE  

Pastoor Marius Erasmus word in April 2010 verkies tot die moderator van Lede in Christus Kerk, nadat hy sedert 2001 die verkose vise-moderator was. Marius is gebore uit ‘n gesin van die kerk op 21 April 1962 en hy kom tot bekering op 30 Oktober 1977, as vyftienjarige seun, nadat sy ouer broer, Michiel, hom na die Here lei. Hy tree op 11 September 1982 in die huwelik met die liefde van sy lewe, Joanie Erasmus, die jongste dogter van wyle pastoor Willie (Witkop) en Maria Fourie, een van die mees lojale oud-pastoorspare van Lede in Christus Kerk. Op 01 Januarie 1986 tree hulle toe tot die voltydse bediening. Onder hulle leierskap word daar in besonder klem gelê op die opleiding van pastoorspare, op verskillende terreine, van bedieningsvaardighede, verskeie Teologiese aspekte, leierskap, beradingsvaardighede, sowel as basiese kennis van noodsaaklike rekenaarprogramme. ‘n Groot deurbraak wat betref tersiêre opleiding vir pastore, is die affiliasie van die kerk se seminarie met die Universiteit van Noordwes. Dit beteken dat pastoorspare en lidmate geakkrediteerde graadkursusse, tot-en-met Doktorsgrade, in Pinkster Teologie kan verwerf. Die Lede in Christus Kerk, nou meer dan ooit tevore, besef die ekumeniese rol van elke kerk in die liggaam van Christus en werk graag saam met ander kerke, sendings en genootskappe, wat ‘n koninkryksvisie in Christus het. Kenmerkend van die huidige seisoen waarin die Lede in Christus Kerk is, is dat daar besondere groei plaasvind en word die afgelope sewe jaar twee-en-twintig nuwe gemeentes gestig, met enkeles ook in die buiteland.

LEDE IN CHRISTUS KERK BEUR VORENTOE   

MARANATA, ONS KONING KOM!


Ontwerp deur www.illustriousdesigns.co.za